In 'n vorige skrywe het ons gesien hoe mengsels van dekgewasse beter vaar as monokultuur dekgewasse. Die vraag wat jy nou het: Wat moet ek in 'n mengsel sit en/of hoe bepaal ek 'n mengsel?
Om te bepaal watter dekgewasse om in ‘n mengsel te gebruik, moet ons kyk na die tipe dekgewasse en hul eienskappe.
Daar is hoofsaaklik 4 groepe van dekgewasse, en elke groep het sy funksies in ‘n dekgewasmengsel.
Grasse
Grane
Peulgewasse
en Brassicas
Die Wes-Kaap is hoofsaaklik ‘n winterreënval-area en dekgewasse wat in die wintermaande groei, werk die beste. Onder besproeiing kan ons somer dekgewasse gebruik, maar dis ‘n onderwerp vir 'n ander dag.
1. Grasse
Grasse is baie goed vir grondbedekking en grondgesondheid. Dit bind baie koolstof en het ‘n goeie wortelstelsel. Grasse werk baie goed indien jy gronde wil herstel en waar jy dit as weiding gebruik. Wanneer ons na dekgewasse vir permanente gewasse kyk, vermy ons eerder grasse (omdat dit moeilik beheer) en vervang ons die grasse met kleingrane in ‘n mengsel.
2. Kleingrane
Kleingrane sluit in korog, hawer (wit en swart hawer), gars, rog ens. Hawer en gars is baie goed om voordelige swamme te huisves en te vermeerder. Die swam, Mycorrhizae , is baie voordelig vir permanente gewasse soos wingerde en boorde en verhoog fosfaat - en wateropname.
Hawer het meer hitte nodig as die ander kleingrane en groei baie goed in die herfs en lente. Korog en gars groei weer beter tydens die koue maande van die winter. Die beste resultate is waar ons bv gars en hawer saam plant. So het jy heel seisoen ‘n graan wat groei.
Hawer gee ‘n groter stoel wat ook help vir onkruid onderdrukking.
3. Peulgewasse
Peulgewasse vir die Wes-Kaap, wat baie goed vaar, is wieke, medics, klawers, lupiene en fababone. Medics en klawers het baie klein saadjies en hulle moet na plant opgevolg word met goeie reën. Lupiene en wieke werk beter in droër areas as gevolg van hul groter sade.
Peulgewasse bind stikstof en bevorder ander dekgewasse in ‘n mengsel. Vir peulgewasse om effektiewe stikstof te bind, het hulle gronde met hoër koolstof nodig. Hulle werk dus baie goed saam met grane.
Op skoon gronde verhoog ons die persentasie van grane tot peulgewasse in 'n mengsel.
Die grane is daar om die aanvanklike materiaal en koolstof te verskaf, wat die peulgewas dan weer help om meer stikstof te bind.
Dit gebeur omdat die bakterie wat op die peulgewas se wortels bly, beter vaar in gesonder gronde wat meer koolstof bevat.
Peulgewasse en Brassica's het ook blommetjies wat natuurlike predatore teen insekte verhoog.
Fababone gebruik baie water en jy kan dit in jou mengsel gebruik waar jy met versuip toestande sit in die winter. Fababone word nie aanbeveel in droër areas nie, gebruik dan eerder wieke en lupiene.
4. Brassicas
Brassicas het oor die algemeen klein saadjies en sluit radyse, raap, mostert, kanola en sigorei in. Brassicas het sterk penwortelstelsels. Radys het 'n dik penwortelstelsel wat grondverdigting breek. Radyse stoor baie stikstof in hul wortels en daarom is dit goed om peulgewasse saam met radys te plant. Die stikstof kan tot jou voordeel gebruik word in gewasse wat die radys opvolg.
Brassica se wortels is nie baie voordelig vir goeie swamme in gronde nie, daarom gebruik ons radyse in klein hoeveelhede,en baie versigtig, in dekgewasmengsels.
Te veel radyse in die wortelsone van permanente gewasse soos boorde en wingerde, kan stikstof-beskikbaarheid vroeg in die seisoen verlaag. Nòg ‘n rede hoekom hy nie te groot persentasie van die mengsel moet uitmaak nie.
OPSOMMING:
1. Vir bedekking van kaal grond en om verdamping en erosie te verminder, moet kleingrane en peulgewasse deel uitmaak van jou mengsel.
2. Om grondverdigting te verminder sodat water gronde makliker kan indring, gebruik brassicas en grane in jou mengsel.
3. Onkruid onderdrukking gebeur deur ‘n mengsel van die groepe te plant.
4. Stikstof verhoging in grond deur peulgewasse te gebruik.
5. Vrystelling van onbeskikbare minerale in die grond, gebruik grane en peulgewasse
6. Grondgesondheid waar 'n mengsel van al die groepe die beste werk
______________
Kostes van mengsels
Baie van die kleinsade (bv. radys) is duurder as kleingraan, maar ons plant baie minder kg/ha. Wanneer jy mengsels maak, moet jy die saaidigtheid van die onderskeie dekgewasse verminder. Jy gaan dus minder graan in mengsels gebruik.
Jou plantkoste aan saad per ha gaan dus nie soveel verhoog teenoor monokultuur dekgewasse nie EN jy kry baie meer materiaal in mengsels as gevolg van die samewerking tussen gewasse.
My ervaring met dekgewasse
Sedert 2008 het ek na grondgesondheid gekyk as hulp tot grondvoeding. Ek was in daardie tyd wingerdkundige by Oranjerivier Wynkelders en later Namaqua Wines. Ek het in dié tyd baie na maniere gesoek om produksie te verbeter vir produsente van die kelders. Na ‘n kursus van Graeme Sait van Nutri-Tech Solutions (Australië), in 2008, het ek gesien dat ons te veel na die chemie van gronde kyk, en die biologie van gronde miskyk om produksies te verbeter. Ek het begin om met kompos, kompostees, mikrobes ens. te eksperimenteer, maar dit was òf nie bekostigbaar nie, òf die resultate was wisselvallig.
In 2016, na 'n video van Gabe Brown op YouTube, het ek gesien dat die beste en bekostigbaarste manier om koolstof in gronde te verhoog, dié van dekgewasse is. Meer spesifiek, die mengsels van dekgewasse.
In 2016 het ek begin eksperimenteer met mengsels.
Die mengsels is in die laaste 3 jaar verfyn tot wat werk in 'n mengsel.
Groete en sterkte
Stoney
Commenti